Glimlagkind

18 September 2018

TUSSEN DIE SINKPLATE – Teresa Jawa

In die Somer is dit soos ‘n oond en in die Winter soos ‘n yskas.  Dit is hier tussen die sinkhokkies waar ek die kind met die mussie vir die eerste keer gesien het.  Wanneer die rooi Toyota (gemeentemotor) stop en later die Kerk se kombi dan klim die kind met die mussie ook in.  “Hoe oud is jy?” vra ek eendag.  “Ses jaar oud oom!”, was die antwoord.  Deidre, by die kerk, vra die kind met die mussie in watter standerd hy is.  Die kind met die mussie antwoord:  “Tannie, ek is ‘n dogtertjie.”

Haar naam is Teresa Jawa.  Ek en haar ma gaan skryf haar by Daljosaphat Primêre Skool in op die ouderdom van 9 jaar.

So het sy voor ons opgegroei en ouer geword.  Sy het getrou, die Jeugbyeenkomste en Sondagdienste bygewoon.  Sy het die Here Jesus as Verlosser en Saligmaker aangeneem en is daarna gedoop.  Haar ma is oorlede op ‘n vroeë ouderdom waarna ‘n tannie haar en haar broer ingeneem het. Teresa het begin uitstaan as ‘n leier en is later as onderhoof dogter van Daljosaphat Primêre Skool gekies

Een Vrydag word die Jeug afgelaai.  Terwyl ons in die Kerkbussie ry, vertel Teresa die ander van haar 21ste verjaarsdag.  Ek vra haar waarom ek nie uitgenooi was nie.  In dieselfde asem noem ek dit aan haar dat sy in Graad 12 is, en nie 21 jaar oud kan wees nie.     Sy herinner my:  “Oom het my eers skool toe gevat toe ek 9 jaar oud was!”

Teresa word ‘n Klein-groep leier by die Waterval Bediening se kampe, studeer Toerisme by die Boland Kollege en word ook gekies om te help skryf aan ‘n boek wat fokus op jongmense in haar gemeenskap. Haar liefde vir die Here en getrouheid is duidelik sigbaar.  In die gemeente is sy aktief betrokke en ‘n seën vir ons almal.

Bye, bye sinkplaat hokkie, daar wag ‘n woning in die hemel vir haar.

Johan

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *