BOLAND SE TROMPIE

Die stem aan die anderkant van die telefoon huil:  “Dominee,  Cliffie is in die hospitaal by ongevalle!” Dink aan Trompie van die “Boksombende” en jy sal weet watter  soort seun Cliffie was. Vol van energie, besig en by die jeug altyd die planmaker en middelpunt van die groep.  Hy het by sy ma Noleen gebly op die plaas Keurfontein.

Cliffie kom gereeld jeug toe en nooi sy ma om kerk toe te kom op Sondae.  Een Sondag in 1999 na ‘n die diens, sit sy op die trappe van die kerkgebou, sy wil met my en Wess Adams praat. Noleen verduidelik aan ons dat sy vir die eerste maal die evangelie van Jesus Christus verstaan het en wil Hom vra om in haar lewe in te kom.  Sy word in 2000 te Parow Baptiste Kerk gedoop.

In Oktober 2003 gaan swem Cliffie en sy maats in die Bergrivier.  Hulle spring van die brug
af in die rivier soos seuns maar sal doen. Gedurende ‘n sprong gly sy voet, met die gevolg dat hy nie genoeg momentum het om ver genoeg te spring om die fondament van die brug te mis nie. 

By ongevalle drup die bloed op die grond waar Cliffie op die trollie lê. Duidelik is hy nie by sy bewussein nie, die wond in sy agterkop is groot. Ek maak die suster attend daarop en die dokter begin dadelik werk maak van die situasie. Ons jeugleier,  Jerome word gebel en nie lank daarna, is hy,  ek en Noleen oppad Tygerberg Hospitaal toe. Cliffie is oorgeplaas na die Neuro-chirurgiese afdeling. Met die ambulans is hy voor ons by Tygerberg.   Onmiddelik roep die dokter vir my en  Jerome  eenkant  en lig ons in dat Cliffie breindood is en dit sal beter wees om die masjiene af te skakel. Die dokter laat dit aan ons oor om die situasie aan Noleen te verduidelik. Net daar bid ons tot ons hemelse Vader en staan by die bed soos wat  Cliffie se hart op 15 jarige ouderdom ophou klop.

Cliffie se lewe kon nie deur die dokters gered word nie, maar deur sy ma uit te nooi na die kerkdiens, het die Here haar lewe gered.  Nou het sy die ewige lewe. Moet nie dink wat jy doen het geen waarde of betekenis nie, want ons ken nie al God se planne nie.

Johan Hildebrandt

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *